Friday, October 12, 2012

Troue 8 Oktober 2011



Ek is die 8ste Oktober verlede jaar getroud. Dit is al sowaar ‘n jaar gelede! Ek het so lanklaas geblog – die dat ek nog nooit oor hierdie spesiale dag geskryf het nie. Om te trou is nie perde koop nie.


Ons het op 13 Augustus 2010 verloof geraak nadat ons vir sewe jaar al ‘n paartjie is. Dit was omtrent ‘n verrassing! Stephan het ongelooflike moeite gedoen om dit vir my spesiaal te maak. Hy het my kom oplaai by my ouers se huis en ons sou by sy ma gaan kuier het. Toe ek by die huis kom, stap ek in hierdie pragtige vertrek in: dis net ligpienk (die hele sitkamer was gedrapeer met pienk organza) waar jy kyk en feetjie liggies en blomme hang uit die dak uit. Toe besef ek hier kom ‘n ding... Die ding was toe die mooiste mooi diamantring wat Stephan aan my vinger sit. Dit was ‘n baie spesiale heerlike aand. Later het my ouers en broer opgedaag en ons almal het lekker saam geëet.

Troue beplan is waaragtig nie eenvoudig nie- veral as mens nie kan besluit wat jy wil hê nie. Ek het die hele tyd geweet daar sou donker pers betrokke wees, want dit is so statige ryk kleur en vertoon baie mooi by deftige geleenthede. Die idees het my gedagtes baie lank ontduik tot ek 2011 se Sarie Bruid in die hande kry. Daar sien ek toe ‘n troue in pers en rooi- dit was so treffend en dramaties! Ek het toe dadelik geweet dis wat ek wou hê.

Ek het geweet hoe ek my rok wou hê: dit moet modern wees en tog bietjie ou-wêreldse sjarme hê. Ek het die internet elke dag besoek en gesoek na die ideale voorbeeld. So gaan ek toe met vyf prentjies na Tannie Julie toe. Sy kyk hulle een vir een en sê toe vir my: “Wag so bietjie..” en verdwyn in haar kamertjie vol asemrowende skeppings in. Toe sy uitkom met die eerste rok het ek geweet: daai ene is myne! Dit was toe ook so. Ek was dadelik verlief op die rok en dit het soos ‘n handskoen gepas. Kan mens nou so gelukkig wees?

Die week voor die troue was omtrent ‘n gejaag. Nou moet ‘n jaar se beplanning uiteindelik bymekaar kom. Ek sal my ma en pa altyd dankbaar wees vir die ongelooflike mooi troue wat ek gehad het. My ma het haarself oortref (soos ‘n super-mom mos altyd doen): sy het my geduldig gevat vir skoene, rokpassings, weer nuwe skoene, die maak van ons kaartjies, tafelplanne en nog vele meer. Ek is haar ewig dankbaar vir al die moeite.

Die groot dag het soos ‘n oogwink gevlieg. Van hare tot aantrek, kerk, seremonie, foto’s en die onthaal was ‘n sukses en baie mooi. Teen die einde van die aand was ek poot-uit en my voete was bitter seer van die skoene wat ek gedra het. Ons het daarna na die gastehuis vertrek waar ons oornag het en die volgende dag na Johannesburg gery. Ons het van Johannesburg na Mosambiek gevlieg vir ‘n onvergeetlike wittebrood.

Ek kan die Here net loof vir Sy groot genade en guns. Hy het vir my en Stephan bymekaar gevoeg- die Here maak nooit foute nie.

Ek sluit die post af met Koos du Plessis se gebed wat tydens die seremonie gesing is.

Laat my nooit die grond verlaat nie.



Laat my in U skadu bly.



Gee dat elke aardse vreugde en vrees,



eindelik nietig word vir my.



Elke afdraai paadjie ken ek.



Elke keer het ek verdwaal.



Elke keer het u my iewers kom haal.



Maak dit Heer, die laaste maal.



Elke dag is ‘n gedagte.



Elke kamer net gehuur.



Elke aardse droom van rykdom en roem,



net ‘n skadu teen die muur.



Wat ek is, is net genade.



Wat ek het, is net geleen.



Eintlik smag ek na U waters van rus.



Lei my Heer vanaand daarheen.

No comments:

Post a Comment