Monday, September 13, 2010

Masjien

Deesdae voel ek soos 'n masjien wat net voort beweeg ongeag wat. Elke dag is maar net nog 'n dag wat ek moet deurleef en voort beweeg. Elke beweging voel meganies- my liggaam staan in die oggend op want dit moet gaan werk, ek eet maar so bietjie-bietjie want ek moet. Binne is soos 'n leë huis. Die veiligste plek vir die masjien is in 'n bubble- waar niks en niemand bestaan nie. Net die stilte.

Friday, August 27, 2010

Vernietigende lêers

Het jy, liewe leser, al ooit met negatiewe lêers in jou onderbewussyn geworstel?
Dalk wonder jy: wat de hel is negatiewe lêers? Wel as jy so doring in die vlees het, sal jy dit beslis weet. Ek worstel met so stel lêers. Dit is regtig swaar en baie moeilik.
Met die genade van die Here, baie gebed en intensiewe navorsing het ek sover gekom om 'n verloofring van 'n man te aanvaar. Dit beteken plainweg dat my lêers in my onderbewussyn my nie weer gekeer het nie.
Die aard van hierdie tipe lêers is werklik vernietigend- dit oorheers jou hele psige. Dit veroorsaak algehele wantroue en die harde, seer besef dat jy NIKS aan die oorsaak van jou lêers kan doen nie. Jy moet bloot net aanvaar dat daardie tipe goed in die wêreld bestaan. Die satan het dit daar geplaas juis om jou, kind van die Allerhoogste, mismoedig en waansinnig te maak.
Die ergste (en troos) van alles is dat net die Here Jesus weet wat binne daardie lêers staan want dis pynlik en donker daarbinne. 'n Deel van die psige waar nie eers die eienaar self wil ingaan nie- 'n plek wat liewer diep weggebêre word.
Maar soms word jy in jou lewe van elke dag gekonfronteer met die inhoud van daardie lêers. Dan is die hel behoorlik los in ou binneste: jy haat die mensdom, verafsku jouself en wens net dat alles kan eindig sodat jy in vrede aan die voete van Jesus kan gaan sit.
Of vernietigende lêers ooit verwyder of delete kan word uit die onderbewussyn, weet ek nie.
Liewe leser, ek vermaan jou soos 1 Tim 6:11-12: "Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid en sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het".
Bly weg van dinge wat jou siel ewige skade aandoen, wat solank jy op aarde is in jou kop ingegraveer is. Moenie dit aan jouself doen nie! Elke daad het gevolge- veral die wat jy dink niemand sien of van weet nie. Dis juis hulle wat jou een of ander tyd inhaal en altyd 'n baie groot invloed op jou lewe en menswees sal hê.
As jy 'n lêer het waarmee jy worstel, neem dit na Jesus Christus: net Hy kan jou van die sonde en boosheid verlos.
Wees waaksaam tot volgende keer.

Wednesday, July 28, 2010

Wêreldbeker sokker 2010

Ek het nooit in my lewe gedink dat ek ooit van sokker sal hou nie. Nou geniet ek dit vreeslik.
Die atmosfeer en die gees wat hier in Suid-Afrika geheers het, was een van opgewondenheid en trots.

Ek het skielik aan 'n seldsame kwaal begin ly... Duitse koors! Jy het reg gelees. Ek het my volle ondersteuning aan die Duitse sokkerspan gegee ten koste van my beursie. Die sukkel nou nog om van die 'ondersteuning' te herstel. Ek het sowaar in my bankrotskap vir my 'n Duitse sokkertrui gaan koop- en nogal die ware jakob. Dit was so lekker om dit te dra aangesien my voorsate van Duitsland is. Maar ek moet bieg... dit was 'n baie lekker, trotse kopie gewees- ten koste van my beursie.

Ek kan darem die spel volg so op 'n manier- maar is dit vir jou senutergend! Ek wat so gou opgesweep raak van opwinding! Soveel so dat Himmler (ons Duitse rottweiler) aan die blaf gaan as Duitsland 'n doel aan teken. Amper soos die Cheetahs teen enige ander span (ek is so bly en trots dat hulle Saterdag die bulle geklop het).

Nou is al die opwinding verby en die lewe is weer terug na normaal- ai tog. Maar steeds kan ek my mooi truitjie aantrek en weer daardie opwinding in my geestesoog ervaar.

Ek moet my seker net weer by die werklikheid bepaal- en dis my werk!

Tot volgende keer.

Merrylegs

Wednesday, April 21, 2010

Die Dood

Die Dood is een van die ergste dinge wat die mens kan tref. Die dood voel so finaal, is so finaal wat ons menslike bestaan betref. Die mens het geen weerstand daarteen nie en ook geen beheer daaroor nie.
Daar is wel vir Jesus Christus se kinders die wonderlikste nuus. Jesus Christus het die dood aan die kruis oorwin! Jy het reg gelees: die Dood is oorwin. Jesus Christus het aan die kruis gesterf sodat ek en jy vir ewig by Hom kan lewe. Dit is regtig 'n wonderlike troos. Wat ons ook moet onthou, is dat ons geliefdes wat sterf nou veilig aan die voete van Jesus Christus vir ons wag. Hulle smaak alreeds daardie vrede, liefde en teenwoordigheid van Jesus waarna ons almal verlang.
Die wat agterbly is rou en stukkend deur die gebeurtenis agter gelaat. Die pyn ken geen perke nie en dit voel of die wêreld maar net kan vergaan, maar ons moet weet dat Jesus Christus ook intens bewus is van sy kinders se pyn. Hy weet van jou stukkende seer! En daaron stuur hy die Trooster, die Heilige Gees, om ons te vertroos en te lei deur hierdie donker tyd.
'n Predikant het eenkeer 'n baie roerende boodskap aan sy gemeente gegee. Hy het gepreek van Josua se emosionele ID. Josua was Moses se dienskneg gewees. Hy het langs Moses geleef en was van al Moses se hartseer, vreugdes en frustrasies bewus. Toe sterf Moses.
Josua se lewe het binne 'n oogwink in 'n donker gat verander. Dit wat sin in sy lewe gemaak het was nou weg. Josua is verward en weet nie hoe om met sy lewe voort te gaan nie. Maar toe kom die Here en sê dat Josua moet opstaan en die volk gaan lei. Die Here is intens bewus van wat dood, siekte en leiding in jou lewe doen.
Jesus Christus het self die lydensweg gestap met ons pyn, hartseer, verlange en leegheid voor oë. Die Here weet van ons pyn en daarom gee Hy ook krag om dit verdra.
Daarom, liewe leser, rig jou oë na Jesus Christus en put krag uit Sy kruisdood vir jou en vir my sondes. Ons is vrygekoopte kinders van God, ons gaan Sy Koningkryk beërwe! Ons gaan aan die voete van Jesus Christus sit en Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, ervaar. Ons kan nou al hierdie vrede en teenwoordigheid van Jesus Christus in ons lewens ervaar deur die Heilige Gees wat in ons harte leef en werk.
Liewe leser, rig jou oë op na Christus en glimlag deur jou trane!

Wednesday, January 20, 2010

2010

2010 het altyd so ver gevoel vir my. Vandag is ons in hom en die lewe gaan aan soos altyd. 'n Nuwe jaar met nuwe dinge. Ek moet nog twee vakke neem die jaar, dan is ek uiteindelik na ses jaar se swot klaar. Ek word ongelukkig nou nie 'n "dr." of so iets nie, maar ek het darem iets agter my naam wat bewys dat ek deursettingsvermoë het.



Almal van ons het altyd daardie gewraakte nuwejaarsvoornemens. Ek het dit ook gehad en dit sopas verbreek. Ek wou (met die klem op wou) gesonder en minder eet. Wel, ek het sopas 'n medium sub met bacon en avo verorber! Dit was heerlik, maar ek is nou taamlik spyt. Daardie sub gaan verseker om my middel gaan pak.



Ek wil ook meer water drink en gereelder oefen. Ek het gisteraand se touspring geskip... en vandag nog net twee slukke water gedrink. My kleredrag lyk darem nou soos die van iemand wat werk en nie net studente pret het nie.



Hierdie jaar is ook die lankverwagte sokker wêreldbeker in Suid-Afrika. Dis nogal 'n groot ding, maar ongelukkig val sokker nie regtig in my smaak as dit kom by sport nie- ek is 'n lojale Cheetha-ondersteuner.