Monday, October 12, 2009

Hoefslagfees 2009

Wat 'n dag.

Wel, vir my as perde-liefhebber was die dag werklik 'n hoogtepunt. Ek het die mooiste spog-perde gesien waarvan 'n mens net kan droom.

Die dag het aanvanklik nie goed begin nie en dit alles weens my eie toedoen. Pa kon nie vroeër by die werk loop as half 10 nie. Ek het voor die tyd die program byderhand gehad en alles gemerk wat ek wou sien. Die saalperd vyfgang klas was in die tydgleuf wat ons sou mis- dit was vir my katastrofiese nuus, want saalperde is een van my gunsteling perde-rasse! Wel, toe was ek vir 'n ruk, wat Ma sou sê, opgeblaas en beneuk. Ek het nie besef so baie mense sal die geleentheid bywoon nie- daar was nie plek vir muis op die pawiljoene en onder die tente nie. Ek was eers baie ontsteld toe ek nie voor 'n sitplek kon kry nie en die eerste ding wat in my kop opgekom het was: ''Dit is nou behoorlik 'n waste as ek nie eers kan sien waarvoor ek gekom het nie". Min het ek geweet watter lieflike dag dit sou word...

Ek het met 'n perde-ras kennis gemaak wat ek nooit gedink het ek in lewende lywe sou sien nie. Dit is die Noriker. Hulle is soveel mooier in werklike lewe as op prentjies en foto's! Dit was vir my 'n belewenis om met hulle kennis te maak. Hulle kom oorspronklik van Oostenryk af en word geklassifiseer as ''light working horses". Ek gesels toe met 'n meisie wat op die plaas met hulle werk en sy sê toe die vier wat voor my staan is nog nie volgroei nie! Ek kon dit skaars glo, want hulle was alreeds sulke groot diere. Maar was hulle nie pragtig nie? Hulle was donker bruin met spierwit maanhare en sterte. Silwerskoon en blink geroskam en hulle wit hare wit en uitgeborsel. Toe dink ek net weer by myself: wie sal nie hierdie lieflike diere elke dag wil versorg en bederf nie? Ek sal my voortande gee vir so voorreg... (Wel, dalk nie heeltemal my voortande nie, maar jy kry die idee). Die Norikers was vir my regtig iets spesiaal en ek sal nog baie van die "gentle giants" wil lees en sien.

Die Friesperde was natuurlik ook 'n hoogtepunt. Hulle was blink-swart en grasieus. En saam met die ruiters niks anders as 'n volmaakte prentjie nie. So was elke perd die moeite werd om te bewonder: vanaf die grote Norikers tot die miniatuur perdjies was soos hondjies aan halsbandjies die kinders vermaak het. So van die miniatuur perdjies gepraat: hulle was so groot soos my rottveiler-hond! Dis te oulik vir woorde.

Ek het toe die dag terdeë geniet. Ek het foto's geneem by die versamelring waar die perde en ruiters net voor die vertonings bymekaar kom. Verder het ek vir my boeke en sagte speelgoed van perde versamel. Boeke en perde is nou maar eenmaal my "Achilles heel".

Vandag is ek terug by die werk en dit reën katte en honde. 'n Lekker dag vir dvd's en hot chocolate. Maar ek is baie dankbaar vir my ou werkie.

Wel, laat ek eers bietjie werk vir my salaris.

Mooi dag tot volgende keer.

Merrylegs