2010 het altyd so ver gevoel vir my. Vandag is ons in hom en die lewe gaan aan soos altyd. 'n Nuwe jaar met nuwe dinge. Ek moet nog twee vakke neem die jaar, dan is ek uiteindelik na ses jaar se swot klaar. Ek word ongelukkig nou nie 'n "dr." of so iets nie, maar ek het darem iets agter my naam wat bewys dat ek deursettingsvermoë het.
Almal van ons het altyd daardie gewraakte nuwejaarsvoornemens. Ek het dit ook gehad en dit sopas verbreek. Ek wou (met die klem op wou) gesonder en minder eet. Wel, ek het sopas 'n medium sub met bacon en avo verorber! Dit was heerlik, maar ek is nou taamlik spyt. Daardie sub gaan verseker om my middel gaan pak.
Ek wil ook meer water drink en gereelder oefen. Ek het gisteraand se touspring geskip... en vandag nog net twee slukke water gedrink. My kleredrag lyk darem nou soos die van iemand wat werk en nie net studente pret het nie.
Hierdie jaar is ook die lankverwagte sokker wêreldbeker in Suid-Afrika. Dis nogal 'n groot ding, maar ongelukkig val sokker nie regtig in my smaak as dit kom by sport nie- ek is 'n lojale Cheetha-ondersteuner.