Friday, August 27, 2010

Vernietigende lêers

Het jy, liewe leser, al ooit met negatiewe lêers in jou onderbewussyn geworstel?
Dalk wonder jy: wat de hel is negatiewe lêers? Wel as jy so doring in die vlees het, sal jy dit beslis weet. Ek worstel met so stel lêers. Dit is regtig swaar en baie moeilik.
Met die genade van die Here, baie gebed en intensiewe navorsing het ek sover gekom om 'n verloofring van 'n man te aanvaar. Dit beteken plainweg dat my lêers in my onderbewussyn my nie weer gekeer het nie.
Die aard van hierdie tipe lêers is werklik vernietigend- dit oorheers jou hele psige. Dit veroorsaak algehele wantroue en die harde, seer besef dat jy NIKS aan die oorsaak van jou lêers kan doen nie. Jy moet bloot net aanvaar dat daardie tipe goed in die wêreld bestaan. Die satan het dit daar geplaas juis om jou, kind van die Allerhoogste, mismoedig en waansinnig te maak.
Die ergste (en troos) van alles is dat net die Here Jesus weet wat binne daardie lêers staan want dis pynlik en donker daarbinne. 'n Deel van die psige waar nie eers die eienaar self wil ingaan nie- 'n plek wat liewer diep weggebêre word.
Maar soms word jy in jou lewe van elke dag gekonfronteer met die inhoud van daardie lêers. Dan is die hel behoorlik los in ou binneste: jy haat die mensdom, verafsku jouself en wens net dat alles kan eindig sodat jy in vrede aan die voete van Jesus kan gaan sit.
Of vernietigende lêers ooit verwyder of delete kan word uit die onderbewussyn, weet ek nie.
Liewe leser, ek vermaan jou soos 1 Tim 6:11-12: "Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid en sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het".
Bly weg van dinge wat jou siel ewige skade aandoen, wat solank jy op aarde is in jou kop ingegraveer is. Moenie dit aan jouself doen nie! Elke daad het gevolge- veral die wat jy dink niemand sien of van weet nie. Dis juis hulle wat jou een of ander tyd inhaal en altyd 'n baie groot invloed op jou lewe en menswees sal hê.
As jy 'n lêer het waarmee jy worstel, neem dit na Jesus Christus: net Hy kan jou van die sonde en boosheid verlos.
Wees waaksaam tot volgende keer.