Friday, October 12, 2012

Die jaar 2012: Een gevul met kosbare lesse vir die toekoms.

Hierdie jaar was omtrent vir my een van nuwe ervarings. Ek het soveel geleer die jaar en soveel nuwe dinge beleef. Hierdie is ook my eerste huweliksjaar wat soos 'n oogwink verby gegaan het. As ek terugkyk, kan ek die Here se genade so duidelik sien. Ek kan net dankbaar wees vir alles wat Hy vir my skenk en sy groot genade.


Ek is die 8ste Oktober 'n jaar getroud. Wat 'n wonderlike ervaring en belewenis was dit nie? Ek kan met eerlikheid soos Lianie May (of is dit nou Karlien van Jaarsveldt????) uitroep "Daar is niks beter as liefde nie; niks beter as jy..." Gaan lees weer 'n slag 1 Kor 13 en leer hoe die liefde volkome uitgeleef moet word en soos die Here liefde teenoor ons betoon.

Hierdie jaar het ek ook my eerste internasionale konferensie gereël. Dit was omtrent 'n senutergende affêre gewees. Ook was dit 'n kosbare leerskool in organisering, administrasie en die belangrikste van alles: kommunikasie. Ek moes kommunikeer met mense van regoor die hele wêreld via e-pos, telefoon en in lewende lywe. Dit is so lekker om met die registrasieproses gesigte by name te voeg en die konferensiegangers van aangesig tot aangesig te ontmoet. En om nuwe kennisse en vriende te maak. Nog 'n heerlike gevoel is om te sien hoe goed die studente (kollegas) vaar op internasionale vlak deur die toekennings en pryse wat hulle gewen het.

Ek het weer die jaar gehelp met die administrasie en reëlings vir die National Science Week wat by Boyden Sterrewag aangebied is. Nog 'n kosbare les: moet nooit vir ander mense wag om met 'n projek te begin nie, want op die ou einde wag almal vir mekaar en dan is niks gedoen nie. En dan stres almal vir 'n vale! Neem leiding en voer die projek uit na die beste van jou vermoë. Ek sal altyd een van my kollegas se wyse woorde onthou: Do your best and God will do the rest. Vir die wat senuwee wrakke word (soos ekke!!) - onthou hierdie woorde.

So gepraat van stres en senuwees. Ek probeer myself met elke nuwe projek op my tafel wys maak dat stres onnodig is. As jy alles betyds en volgens 'n skedule doen, sal dit goed gaan. Moet nooit op die nippertjie begin nie! Tot so paar dae voor die tyd... dan begin die "wat as dit gebeur", "wat as die nie opdaag nie". Dan moet mens net onthou: Do your best and God will do the rest". Dit is baie makliker gesê as gedaan! 'n Plan B is ook altyd 'n goeie idee met projekte - dinge loop soms buite jou beheer skeef.

Ek is ook betrokke by die nuwe M.Sc graad in Nanoscience. Dit word aangebied in samewerking met UWC, UJ en NMMU. Die affêre is nog in sy kinderskoene, maar dit lyk of dit vinnig baie groot gaan word.
Die jaar was omtrent 'n perd van 'n ander kleur. Soos ek weereens kan sê; die Here was vir my goed en Sy tyd is die beste tyd. Dinge gebeur soos dit moet- en vir 'n rede!
Tot volgende keer

Merrylegs


No comments:

Post a Comment