Die Dood is een van die ergste dinge wat die mens kan tref. Die dood voel so finaal, is so finaal wat ons menslike bestaan betref. Die mens het geen weerstand daarteen nie en ook geen beheer daaroor nie.
Daar is wel vir Jesus Christus se kinders die wonderlikste nuus. Jesus Christus het die dood aan die kruis oorwin! Jy het reg gelees: die Dood is oorwin. Jesus Christus het aan die kruis gesterf sodat ek en jy vir ewig by Hom kan lewe. Dit is regtig 'n wonderlike troos. Wat ons ook moet onthou, is dat ons geliefdes wat sterf nou veilig aan die voete van Jesus Christus vir ons wag. Hulle smaak alreeds daardie vrede, liefde en teenwoordigheid van Jesus waarna ons almal verlang.
Die wat agterbly is rou en stukkend deur die gebeurtenis agter gelaat. Die pyn ken geen perke nie en dit voel of die wêreld maar net kan vergaan, maar ons moet weet dat Jesus Christus ook intens bewus is van sy kinders se pyn. Hy weet van jou stukkende seer! En daaron stuur hy die Trooster, die Heilige Gees, om ons te vertroos en te lei deur hierdie donker tyd.
'n Predikant het eenkeer 'n baie roerende boodskap aan sy gemeente gegee. Hy het gepreek van Josua se emosionele ID. Josua was Moses se dienskneg gewees. Hy het langs Moses geleef en was van al Moses se hartseer, vreugdes en frustrasies bewus. Toe sterf Moses.
Josua se lewe het binne 'n oogwink in 'n donker gat verander. Dit wat sin in sy lewe gemaak het was nou weg. Josua is verward en weet nie hoe om met sy lewe voort te gaan nie. Maar toe kom die Here en sê dat Josua moet opstaan en die volk gaan lei. Die Here is intens bewus van wat dood, siekte en leiding in jou lewe doen.
Jesus Christus het self die lydensweg gestap met ons pyn, hartseer, verlange en leegheid voor oë. Die Here weet van ons pyn en daarom gee Hy ook krag om dit verdra.
Daarom, liewe leser, rig jou oë na Jesus Christus en put krag uit Sy kruisdood vir jou en vir my sondes. Ons is vrygekoopte kinders van God, ons gaan Sy Koningkryk beërwe! Ons gaan aan die voete van Jesus Christus sit en Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, ervaar. Ons kan nou al hierdie vrede en teenwoordigheid van Jesus Christus in ons lewens ervaar deur die Heilige Gees wat in ons harte leef en werk.
Liewe leser, rig jou oë op na Christus en glimlag deur jou trane!
No comments:
Post a Comment